Die Staatsmodelskool is geleë op die hoek van Lilian Ngoyi- (voorheen Van der Walt-[1]) en Nana Sita-straat (voorheen Skinner-straat[1]) in Pretoria, in die provinsie Gauteng, Republiek van Suid-Afrika. Dit het ontstaan uit 'n skool wat in 1893 gestig is om onderwysers in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) op te lei. Alfred Fernandez Harington is op 1 Oktober 1895 as onderwyser in Engels aangestel.
Sytze Wierda, hoofargitek van die ZAR, het die gebou in 1895 ontwerp, en die konstruksie daarvan is in 1896 deur Te Groen voltooi.[2] Die struktuur bestaan uit baksteen en Stinkwater-sandsteen en volg die Neo-Hollandse Renaissance-boustyl.
Op 11 Oktober 1899 het die skool gesluit as gevolg van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Tydens die oorlog het die gebou gedien as 'n hospitaal vir Boeresoldate en as 'n gevangenis vir Britse offisiere. Die ontsnapping van Winston Churchill – oorlogskorrespondent en later Britse eerste minister – uit die gebou het legendariese status verwerf.
Die skool het vanaf 1901 weer lewe gekry as Pretoria High School, en van 1902 tot 1909 as die Pretoria College for Boys, wat later Pretoria Boys High School geword het. In 1910 het die kollege na groter persele verskuif, waarna die Staatsmodelskoolgebou verskeie ander skole gehuisves het, insluitend in 1946 die "Hamilton Primary School" (Robert Hamilton was 'n bekende sakeman en weldoener van die skool). Die Biblioteekdienste van die Transvaalse Onderwysdepartement (TED) het in 1951 daar ingetrek.
Die gebou is op 8 April 1960 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Verwysings
25°45′00″S 28°11′38″E / 25.75000°S 28.19389°E / -25.75000; 28.19389